Liezl van der Merwe, kontakpersoon vir SeeRedding SA was die gasspreker wat Donderdag 13 Junie die werk van die organisasie aan inwoners van Starck Homes in die hoofhuis bekendgestel het.  Die Organisasie bestaan al sedert 1976 en maak gebruik van 5 sprekers om by alle instansies die werk wat hul doen bekend te stel.  Met tot 2000 verdrinkings jaarliks, waarvan 600 kinders tussen 1-2 jaar oud is hoop dit hulle om hul diens wyd bekend te stel.  Daar is onlangs nog See Redding poste by Port Nolloth en by Kleinmond ingestel.  Vrywilligers van 16 tot 60 jaar word deeglik opgelei vir die werk en is 24 uur 7 dae van die week vir 365 dae beskikbaar, met ander woorde voltyds.  Daar is ‘n hele paar dinge wat ‘n reddingswerker leer, o.a. om nooit in die water na ‘n drenkeling te gaan nie, maar liewer ‘n reddingsboei na die persoon te gooi, om te verhoed dat die angsbevange persoon die redder oorweldig en hul saam verdrink.

Die redders moet ook voorbereid wees op enige gebeurlikheid, want omstandighede is nooit dieselfde nie.  ‘n Redder kry twee ure se opleiding vir een uur se reddingspoging.  Spanwerk is baie belangrik.  Diere word ook gered, soos ‘n dolfyn wat in drade verstrik geraak het, ‘n klein seeleeu wat op die wal gestrand is, of voëls wat in iets vassit.  Selfs ingeval van oorstromings, soos onlangs by KZN het hulle gehelp met reddingswerk en komberse verskaf.  Hulle is afhanklik van 88 000 donateurs vir bote en ander toerusting en donasies is baie welkom.

Mense is welkom om hul by ‘n basis te kom besoek.  Die aanwesige kon lidmaatskap kaartjies invul en kry dan 3 tydskrifte met inligting oor die See Redding se jaarliks, gratis as die persoon ouer as 50 jaar is.  Die byeenkoms is afgesluit met ‘n lekker koppie tee en ‘n skyfie melktert.