Maak seker dat jy vertroud is met tegnologiese ontwikkeling sodat jy as senior burger op datum daarmee kan bly.
Dit was Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, se boodskap aan die seniors van die Tygerbergdienssentrum in Weymarstraat in Parow, toe sy hulle onlangs besoek het.
Zille is op uitnodiging van Francheska Walker, raadslid vir wyk 26, na die dienssentrum genooi en het oor ’n koppie tee met die seniors gesels.
In haar toespraak het sy die seniors aangemoedig om ná hul aftrede besig te bly deur daagliks oefeninge te doen.
“Tegnologie is besig om die wêreld oor te neem en seniors moet seker maak dat hulle kennis het hoe om selfone te gebruik of om op ’n rekenaar te
werk. Die daaglikse oefeninge sal julle help om in julle silwer jare ’n gesonde lewenstyl te handhaaf,”het Zille gesê.
Hulle moet ook aan verskeie aktiwiteite in hul omgewing deelneem deur by ’n breigroep of gemeenskapsorganisasie
betrokke te raak.
“Jy moet ook op sosiale vlak met jou familie en vriende kommunikeer en sodoende goeie verhoudings bou. Deur die aktiwiteite waarby jy betrokke
raak, sal jy voorkom dat jy vereensaam of afgestomp raak,” het sy gesê.
Sy is deur Walker en Linda Louw, bestuurder van die dienssentrum, deur die sentrum geneem en sy kon ook die handwerk waardeer van die seniors
wie se werk uitgestal is.
“Sy was baie beïndruk met die pragtige en verskeidenheid handwerk en was verstom oor die vaardighede waaroor van die seniors op hul ouderdom
beskik,” het Louw gesê. Zille het van die handwerk gekoop en gesê dat die seniors baie seëninge het, want hulle kan doen waarvoor hulle lus het
en nie wat van hulle verwag word nie.
Source: AVRIL FILLIES Tygerburger Parow Woensdag, 18 Julie 2018
Recent Comments