Aan die einde van 2015 toe ons die ou jaar groet, was daar by Mnr. Dawie Fourie en Mnr. Chris Kitshoff van Huis Lidcote, ‘n splinternuwe idee gebore. Die aanlê van ‘n eie groente tuintjie in 2016.
‘n Stukkie grond agter die huis was geidentifiseer, maar eers moes hardnekkige kweek, onkruid en ‘n groot verdroogde boomwortel verwyder word. Met sorgvuldige beplanning, kommunikasie en uitstekende spanwerk het die projek vorm aangeneem.
Die saad van ‘n tamatie uit die Lidcote kombuis was gebruik en die klein tamatie plantjies was een vir een met sorg in die tuintjie aangeplant.
Belangstellendes het na die tuintjie kom kyk en op verskillende maniere ‘n bydrae gemaak, hul ondersteuning gegee en bystand verleen.
- Op 29/01/16 om 08h50 kon Mnr. Fourie en Mnr. Kitshoff die eerste tamatie en spinasie blaar kombuis toe bring.
- Op 3/02/16 om 10h58 het hulle met groot vreugde die vrug van hulle arbeid gevier deur die opbrengs met ander te begin deel.
Die vriendskapsbande wat gesmee is, die ondersteuning wat ontvang was en die samewerking wat hulle ervaar het gedurende die projek is noemenswaardig. Mnr. Kitshoff het die ervaring beskryf as stimulasie vir die brein en oefening vir die liggaam. Voorwaar ‘n Wenresep.
Ons wil graag dankie sê aan almal wat bygedra het tot die sukses van Huis Lidcote se eie groente tuintjie en alle eer bring aan ons Skepper wat dit moontlik gemaak het.
Van Annie Pearson
Huis Lidcote
Recent Comments